Google Translate

Google Translate is ’n gratis aanlynvertaaldiens van Google Inc. Dit bied outomatiese vertaling aan tussen ’n groot aantal volkstale. Die diens verskaf ook omskakelings van spraak in teks, beelde uit teks, webwerwe, asook spraak in spraak vir sekere tale. Die diens word aangebied deur ’n koppelvlak op die Web wat deur middel van persoonlike rekenaars of slimfone (Android en iOS) benut kan word. ’n API is ook beskikbaar wat ontwikkelaars in staat stel om blaaieruitbreidings en toepassings te bou. Google Translate ondersteun meer as 100 tale. Teen Mei 2013 is meer as 200 miljoen gebruikers per dag gerapporteer. Die gehalte van die vertalings wissel, inherent aan rekenaarvertalings oor die algemeen, aangesien die betekenis van woorde afhanklik is van die konteks waarin hulle gebruik word. Deur die interaktiewe karakter van die diens, waaronder die verkryging van terugvoer van gebruikers, kan die gehalte van die diens mettertyd verbeter word. Logieserwys sal vertalings tussen veelgebruikertale hierdeur beter en begrypliker wees as minder gebruikte tale. Die diens kan ook in en uit Afrikaans vertaal. In November 2016 het Google aangekondig dat Google Translate voortaan gebruik gaan maak van ’n neurale masjienvertaalenjin – Google Neural Machine Translation (GNMT) – wat volledige sinne in een prosedure, eerder as stuk vir stuk, vertaal. Neurale masjienvertaling is aanvanklik op agt taalpare toegepas: uit en in Engels en Chinees, Frans, Duits, Japannees, Koreaans, Portugees, Spaans en Turks.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in